Monday 6 October 2014

NUUSBRIEF VAN DIE WES-KAAPSE VETERAAN-TREKKER & ENJINKLUB Nommer 61 September 2014

NUUSBRIEF VAN DIE WES-KAAPSE VETERAAN-TREKKER & ENJINKLUB Nommer 61 September 2014

Die koskontingent van Robertson
Baie skoukomitees, en nie net komitees van veteraneskoue nie, sal hul ou skoene agterna wil gooi om mense soos die Stemmet-groep en Nico Fourie van Robertson as deelnemers te hê. Vir die afgelope twee jaar veral het hulle ‘n onvergelyklike bydrae tot ons aanbod gemaak.
Oom Willem Stemmet, ‘n man wat op 86 steeds ‘n voorvatter is en oor wie al ‘n TV-program gemaak is, is die patriarg. Sy seun Johan (die kommentator) en kleinseuns Willem en Dawid het lankal gewys dat hulle nie “vir die paviljoen speel” nie.
Die stokery, nou al op verskeie skoue en feeste, het sy ontstaan deur ‘n gedagte van Roodezandt Kelder wat vir oom Willem gevra het of hy so iets kan doen vir die Wacky Wine-fees. Oom Willem stook, sy genant-kleinseun stook en die res van die span maak kos dat jou mond weke ná die skou nog water as jy terugdink. En Johan beïndruk in die arena met sy insiklopediese kennis en kwinkslae as hy kommentaar lewer.
Baie van ons het met moskonfyt, kaiings, vetdermpies, en dies meer grootgeword, maar nog net die Stemmet-span het besef dat dit ‘n vergete vaardigheid is wat ons skougangers sal interesseer. En dit verstom hulle as hulle met die produkte op ‘n skou getrakteer word, en dan nog gratis!

 




Die interessante stories van oom Christie van der Westhuizen en sy “boomkaraats”
Op De Doorns het die 80-jarige oom Christie (klublid sedert die begin van ons organisasie) vir 25 jaar in sy werkswinkel gewerk. Hy praat van sy “boomkaraats” omdat baie van sy werk onder die yslike wildevyboom voor sy werkplek by sy huis gedoen is. Hy het selfs al ’n gediggie oor sy karaats geskryf waarin hy van sy verhouding met die Skepper en sy getroue werkers getuig. En die verbygangers se stories.
Terwyl hy nog aktief was, het hy twee Fordson Dextas omgebou om ‘n toeristewa op die ou spoorlyn in die Hexriviervallei te trek, ‘n trajek van ongeveer 25 km. Dit begin by De Doorns-stasie en draai by Matroosbergstasie, met ‘n stop by Tonnelstasie. Die name van die stasies drup van verlange na die dae wat was — toe ’n stasie nog ’n belangrike plek in baie mense se bestaan was, en ’n stasiemeester ’n meester van sy beroep.
In 2002 is ‘n 1958 Dexta omgebou; agt jaar later het ‘n 1960-model gevolg. Die driepuntarms en trolliewiele is aangebring om te kan terugstoot. Die silinder voor is nodig vir die “lokomotief” om van die spoorlyn te kan op– en afklim. Die Dexta is groen gespuitverf om met die omgewing te kan saamsmelt.
Oom Christie was van die eerste mense in die Vallei wat trekkers gerestoureer het. Sy eerste projek was ‘n eensilinder Steyr.
Oom Christie se pa, oorspronklik van Riebeek-Kasteel, het in 1918 ‘n Ransomes dorsmasjien en stoomketel ingevoer en daarmee in die Swartland gedors. Hulle is later Ceres toe waar hy in die Warm– en Koue Bokkeveld gedors het. Om die masjinerie in die Koue Bokkeveld te kry, is 32 esels ingespan om die vrag teen die ou Gydopas uit te trek, een op ’n slag. Die stoomketel as kragbron is later met ’n McCormick W40 en nog later met ‘n WD40 vervang.
Hulle was ook die laaste mense wat in die Ceres-Karoo gedors het. Die oorblyfsels van die dorsmasjien vergaan nou daar op die vlaktes. Die stoomketel (stationary engine) staan by Oudebaaskraal op die walle van die Tanquarivier, met daarop die gietysterembleem van Smuts & Koch, die firma op Malmesbury wat die invoertransaksie hanteer het.


Foto’s van oom Christie se tweede Dexta-lokomotief


Die ekspo op Malmesbury
Baie geluk aan alle wenners van kompetisies. Niemand het ‘n prys as geskenk gekry nie, en waar nie om pryse meegeding is nie, was die dank en waardering van ons lede en besoekers die beloning.
Vir my was die grootste wenners die mense wat hard gewerk het en sukses daarop gesien het, en ons lede wat in groot getalle hul enjins, trekkers, erfgoed, of wat ook al, kom uitstal het.
Ongeveer 3000 mense het die ekspo gesien, maar dit was minder as verlede jaar. Ons sal probeer verstaan hoekom. Maar wat die besoekers beleef het, het hulle beïndruk. Ons het baie positiewe kommentaar ontvang.
Ons mense wat ons ekspo’s gewoond is en kan vergelyk, was tevrede dat dit ‘n goeie ekspo was. Alles het dalk nie oral 100% verloop nie, maar om nou oor tekortkomings te kla, is onnodig – ons moet eerder daaruit leer en sorg dat dit nie herhaal word nie.

Te sien, was: ongeveer 200 trekkers – 
22 Lanze en 60 John Deeres in totaal;
amper 50 stilstaande enjins;
‘n interessante verskeidenheid voertuie;
‘n indrukwekkende werkende graanbedryf-uitstalling;
erfgoed-uitstallings en -demonstrasies enig in hul soort.


Studebaker in die Tweede Wêreldoorlog
Gedurende die WOII was daar nie ‘n enkele geveg op Amerikaanse bodem in Noord-Amerika nie. Ook maar goed, want die weermagtoerusting wat in die “onbeskadigde” VSA gemaak is, het uiteindelik die Geallieerdes die oorhand in die Oorlog laat kry. Een van die vernaamste voorsieners van militêre toerusting en voertuie was die Studebaker Mpy. wat vandag nie meer bestaan nie.
Die Amerikaanse leër het ‘n 2½-ton 6x6 gespesifiseer. Studebaker, GMC en International het ontwerpe ingedien, dis aanvaar en uiteindelik is 900 000 van hierdie modelle gemaak; 200 000 was Studebakers en seker die meeste daarvan het hul weg na Rusland (die USSR) gevind.
Die Studebaker en die GMC het baie eenders gelyk, en ook baie onderdele gedeel. International het weer baie anders gelyk.
Die Amerikaners het naamlik ‘n stelsel ontwikkel om “neutraal” te bly, maar nog steeds die lande wat die Geallieerdes gesteun het by te staan. Dit is volgens die “Lend-Lease”-stelsel dat duisende Studebakers in Rusland beland het. Onder dieselfde stelsel het die Russe byvoorbeeld miljoene pare stewels ontvang.
Weens hul betroubaarheid was die Studebaker lorrie baie gewild by die kommuniste en het dit die troetelnaam Studer gekry.



Die vooroorlogse Studebaker soos ons dit in Suid-Afrika ook geken het.


 Die 6X6 troepedraer soos Studebaker dit volgens die Amerikaanse leër se spesifikasies gemaak het. Die GMC het naastenby ook so gelyk, maar die International heeltemal anders.


 In ‘n museum: Rusland se “Stalin-orrel “op die Studebaker gebou.


 Hierdie troepedraer in die Studebaker museum is nooit gebruik nie. Toe vrede in 1945 gesluit is, 
was dit nog in die fabriek, en daar het dit gebly tot dit museum toe verskuif is.



DAGBOEK DAGBOEK DAGBOEK
SEPTEMBER
17 tot 20 Bredasdorp by die Megaweek betrokke
24 Ceres/KBV se Erfenisdag-trekkerrit
25 tot 27 Swartland by die skou op Malmesbury betrokke
OKTOBER
4 tot 6 Suid-Kaap se trekkerrit na vakansieplaas by Bonniedale
13 Tafelberg se klubvergadering
25 Ceres/KBV neem deel aan die Howbill-trekkerdag
NOVEMBER
10 Tafelberg se klubvergadering
28 Ceres/KBV se jaareindfunksie
DESEMBER
6 Swartland se oesdag — 072 252 5381
6 Bredasdorp se afsluitingsgeleentheid
8 Tafelberg se klubvergadering
(wanneer die koring ryp is) Ceres/KBV se oesdag — 082 653 2172
13: Suid-Kaap se mini-oesdag by Kobus Groenewald — 082 450 2055
- - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - - -

Administrasie
Klublede word versoek om hul verandering van adres en
kontakbesonderhede aan Sekretaris te laat weet wanneer nodig.

Klubbesture: Hou asseblief beplanningsvergaderings in die laaste kwartaal sodat 2015 se programme in Desember aan Sekretaris verskaf kan word, betyds vir Januarie se nuusbrief.

Die komitee ondersoek die moontlikheid om ‘n gesubsideerde busreis na die 2015-nasionale skou in Pietermaritzburg te reël.
Baie van ons beoordelaars moet gaan. Klublede wat as ’n reël hard werk en bydra tot die sukses van ekspo’s, ploeg– en oesdae, sal voorkeur kry as meer lede aansoek doen as die getal wat in die bus geakkommodeer kan word, want dis hoe ons “skougeld” wat ons oor die jare gespaar het, gaan bestee.
Die nasionale skou word in die laaste naweek van September aanstaande jaar by ’n baie besondere plaas (museum) Baynesfield gehou. Dié plaas is die “hoofkwartier” van die Natalse klub en ’n besoek werd. Google gerus Baynesfield en bekyk die plek
Hou asseblief hierdie moontlikheid in gedagte as jy vir 2015 beplan.


Luister bietjie hier... 
Hulle soek toe ‘n opvolger vir James Bond. Ná ‘n lang gesoek, het hulle drie finaliste — twee mans en een vrou.
Die dag van die finale keuring breek uiteindelik aan.
Toe volg die opdrag aan elkeen afsonderlik:
“Hierbinne sit jou lewensmaat op ‘n stoel. Neem hierdie gelaaide rewolwer. Gaan binne en skiet hom/haar in die kop.”
Kandidaat 1 (dadelik): “Hou jul pos. Ek sal nie skiet nie.”
Kandidaat 2 toe dit sy beurt is:
Hy gaan binne, maar kom na tydjie terug en sê in trane dat hy dit nie oor sy kart kon kry nie.
Só verloor hy ook ‘n pos.
Kandidaat 3 (die vrou, neem rewolver en gaan vertrek binne):
Hulle hoor twee skote en daarna ’n erge kabaal. Vrou kom uit:
“Julle klomp “fools”. Dit was “blanks”! Ek moes die stoel vat om jul opdrag uit te voer!”

Einde van hierdie nuusbrief.